De Wet Hugo is op 26 November 1982 op Worcester gebore. Hy het drie ouer susters en hulle het op ’n Bolandse wynplaas, Spes Bona, tussen Worcester en Villiersdorp grootgeword. Tydens sy laerskooljare het De Wet elke dag met ‘n bus tot op Worcester gery, en gedurende sy hoërskoolloopbaan het hy in die Paarl in ’n koshuis gebly. Na skool het De Wet onderwys op Wellington en Stellenbosch studeer. Daarna het hy as laerskoolonderwyser begin werk – eers in Kaapstad en toe in Somerset-Wes. Gedurende hierdie tydperk het hy ‘n vryskutteksskrywer vir Cool Catz op E-TV geword. In 2010 het De Wet die geleentheid gekry om na Djedda in Saoedi-Arabië te verhuis, waar hy vir twaalf jaar as laerskoolonderwyser by ’n Britse Internasionale Skool gewerk het. Tans bevind hy homself in Hangzhou, China, waar hy Engels by die gesogte Wellington College gee. As skrywer het De Wet bydraes tot Tafelberg-uitgewers se bundels, Skrik op die lyf, Rympies vir pikkies en peuters, Liedjies vir pikkies en peuters, Rympies vir kleintjies en kleuters en Bybelliedjies vir kleintjies en kleuters gelewer. By Human & Rousseau-uitgewers het hy bygedra tot Skool is ’n riller en hy is ook die skrywer van onder andere die Grilgrypers-, Kies-jou- avontuur- en Kinkels en keuses-reekse. De Wet lees graag en hy beskou Stephen King, Roald Dahl en Jacqueline Wilson as van sy gunstelingskrywers.